Die gewilde X-Men-karakter is terug vir nog ’n solovlug, maar anders as in X-Men Origins: Wolverine (2009), wat voor die X-Men rolprent-trilogie (2000-2006) afspeel en die verhaal van Logan (Hugh Jackman) se oorsprong vertel, speel The Wolverine (10-12OTG) in die hede af. Hierdie rolprent is gegrond op die bekroonde strokiesprentreeks geskep deur Frank Miller (wat ook Sin City en 300 geskryf het), waarin Wolfie homself in Japan en uit sy gemaksone in ’n vreemde kultuur bevind. Toe hy die geleentheid kry om sy vermoë tot super-heling prys te gee en ’n gewone man te word, moet hy besluit wat hy werklik wil hê en wie hy eintlik is.

Die rolprent het meestal positiewe resensies gekry. Dit het 67 persent op die resensiewebtuiste Rotten Tomatoes gekry, waar genoem is “hoewel die fliek eindelik in die gewone strokiesprentagtige kaperjolle verval, is The Wolverine een superheldfliek wat daarin slaag om getrou te bly aan die strokiesprent terwyl dit terloopse kykers vermaak”. Die resensent Jeffrey K. Lyles, wat sy eie blad het, het die rolprent 8,5 uit 10 gegee en dit opgesom met: “Een van die beste inskrywings in die X-Men-franchise. As dit nie vir die teleursellende laaste deel was nie, kon dit amper een van die beste strokiesprentrolprente gewees het.”

Ryan Gosling span weer saam met die regisseur van Blue Valentine (2010), Derek Cianfrance, in The Place Beyond the Pines (16 DTG). Dis ’n drama wat kyk na die gevolge toe ’n waagtoertjie-motorfietsryer (Gosling) besluit om ’n bank te beroof nadat sy ou liefde, Romina (Eva Mendes), hom vertel hy is die pa van haar kind. ’n Knap polisieman (Bradley Cooper) is gou op sy spoor en die twee mans raak vasgevang in ’n stryd wat ’n vernietigende uitwerking op hul gesinne sal hê.

Die rolprent is hoog aangeslaan en het 82 persent op Rotten Tomatoes gekry. John Hanlon, ’n skrywer vir die Big Hollywood-blad op Breitbart.com, beskryf dit as ’n “ambisieuse, prikkelende rolprent met ’n uitstekende rolverdeling en van die beste verhaalwendings van die jaar”, terwyl Olly Richards van die tydskrif Empire dit vier sterre gee en skryf: “Omdat Cianfrance probeer om so baie in te pas, raak dele van die storielyn te uitgerek en ander dele bly onvoltooid, maar op sy beste is hierdie pragtige en sterk rolprentkuns.”

Craig Robinson, wat uitgeblink het in ondersteunende rolle in komedies soos Hot Tub Time Machine (2010) en die TV-program The Office, kry eindelik die hoofrol in Peeples (10-12OTS). Hy speel ’n doodgewone ou wat sukkel om in te pas toe hy ’n skatryk familie se jaarlikse saamtrek bywoon om toestemming te vra om met hul dogter (Kerry Washington van The Fixer) te trou.

Die rolprent het meestal gemengde of negatiewe resensies gekry: Die resensieblad Metacritic het dit 52 persent gegee, terwyl dit by Rotten Tomatoes net 35 persent gekry het en beskryf is as “ ’n warm, vriendelike klug wat ’n paar laggies oplewer, maar meestal terugval op ’n voorspelbare storielyn en ’n afgesaagde boodskap”. Die vermaarde Amerikaanse rolprentresensent Leonard Maltin het wel opgemerk dat “Robinson en Washington ’n gawe paartjie uitmaak en dit lekker is om haar vir ’n verandering in ‘n komedie te sien”.

Scary Movie 5 (13TSG) is die jongste toevoeging tot die franchise wat maar net nie wil uitsterf nie. Dis begin deur die Wayan-broers as ’n gekskeerdery met die Scream-rolprente en is nou oorgeneem deur David Zucker. Dit lyk of hy sy slag verloor het nadat hy van die beste parodieë van die 80’s gemaak het, soos Airplane! (1980) en The Naked Gun (1988).

Die storielyn maak nie saak nie; dis net ’n basis vir ’n string grappies oor popkultuur en rillers soos Mama, Paranormal Activity en The Evil Dead, hoewel ander bekende rolprente soos Black Swan en Inception ook geteiken word.

Die rolprent het die laagste punte in die reeks gekry – Rotten Tomatoes het dit vier persent gegee en beskryf as “kinderagtig (met) afgeleefde popkultuur-grappies wat min lagbuie uitlok”, en Metacritic het dit 11 persent gegee, wat “oorweldigende afkeer” aandui. Neil Smith van die tydskrif Total Film het dit een ster gegee en dit ’n “lagvakuum” genoem. Net vir kykers wat wil sien hoe sterre soos Lindsay Lohan, Charlie Sheen en Ashley Tisdale gekke van hulself maak.

- Sandra Visser