Komedie. 

Met Kevin James, Rosario Dawson en Leslie Bibb.

Regisseur: Frank Coraci.

O.

Begin op 12 Augustus.

Ons dink: 1/5

Waaroor gaan dit?

’n Lomp paloeka wat liewer ’n leeu oopmond sal soen as om ’n meisie te vry kry onverwagte romantiese hulp van sy dieretuindiere wat met hom begin praat!

Wie sal hiervan hou?

As jy lanklaas voluit gelag het dat die koeldrank en springmielies wat jy verorber het in jou maag skommel, is hierdie rolprent nie vir jou nie. Dit mag jou wange skarlakenrooi kleur van verleentheid.

So ’n slonserige, koddige brousel het jy laas gesien toe daai vulgêre swaertjie van jou probeer het om ’n onder-die-belt-grap voor die dominee op die huweliksonthaal te vertel.

Die rolprent wankel die oomblik dat die diere begin praat, want anders as in Doctor Dolittle is jou verskoning teenoor jou geliefde of ouers oor hoekom jy laat tuisgekom het oortuigender as hul gebrabbel.

Hierdie vertonerige misbruik van komedie smoor jou lagbuie in jou keel.

Jy sal sommer gemaklik deur twee bokse springmielies knibbel, want jy sal jou mond op die een of ander manier moet besig hou, en dit sal nie van giggels wees nie.

En wat die mooie Rosario Dawson in so ’n hutspot van ondergemiddeldheid soek, sal net sy weet.

Lees eerder die telefoongids. Sommige van daardie vanne is koddiger as hierdie koddige verknorsing.

Soortgelyke flieks

Doctor Dolittle; Paul Bart: Mall Cop; Love, Wedding, Marriage.

Springmieliefeite 

*Kevin James was ’n kranige voetbalspeler en een van die topatlete in sy skool.

*Sy broer, Gary Valentine, is ook ’n komediant en voor Kevin se loopbaan afgeskop het met sy rol in die TV-komedie Everyboy Loves Raymond het hulle lank saam in dieselfde woonstel swaargekry.

Volg Huisgenoot op Twitter.