Ons dink: 4/5

Donker komedie.

Met Charlize Theron, Patrick Wilson en Patton Oswalt.

Regisseur: Jason Reitman.

13TD.

Begin op 13 April.

Dat onse Charlize so sliertig en dwarstrekkerig luidrugtig kan wees!

Hierdie aweregse, swart komedie deur Diablo Cody, wat ook die stroomop Juno ge­skryf het, verras met sy stuitige kwinkslae en unieke siening van grootword.

Char­lize, wat uitmuntende spel lewer (maar geen Oscar-benoeming daarvoor gekry het nie), beeld ’n gefrustreerde vrou uit wat terugkeer na haar geboortedorp om die viriele man opnuut te verlei op wie sy des­tyds verlief geraak het.

Net jammer hy’s getroud en het ’n babadogter. Gaan sy sy gelukkige huwelik vernietig vir eiegewin en bevrediging?

Die rolprent krap met sy skerp ontleedmessie diep onder die vel van vroue wat weier om verantwoordelikheid te aanvaar en wat nie wil grootword nie.

Die humor is donker en kan jou wind uitskop. Die fliek is anders en soms kwetsend danksy die wonderlik spitsvondige, doeltreffende dialoog, die sterk omlynde karakters en die vreesloosheid waarmee die regisseur ’n vrou se pad na selfvernietiging (en dalk bevryding) uitbeeld.

Dit is by tye satiries en soms grens dit aan woeste galgehumor. Die fliek is so moedswillig soos ’n stout dogtertjie wat vir jou tong uitsteek.

Volg Huisgenoot op Twitter.