Ons dink: 2/5

Drama.

Met Kaya Scodelario en Nichola Burley.

Regisseur: Andrea Arnold.

16TG.

Begin op 18 Mei.

Dié klassieke romantiese drama deur Emily Brontë boei en begeester die wê­reld al jare en het aanleiding gegee tot talle TV- en rolprentproduksies.

Die onsterflike liefde tussen die ruwe Heathcliff en die pragtige Catherine in die uitgestrekte, verlate moerasgebied op die Engelse platteland het ook simbolies geword van die brutale klasseverskil in Brittanje en die liefde-ná-die-dood-tema tussen minnaars wat mekaar nie in hierdie lewe kon liefhê nie, maar net in die hiernamaals.

Andrea Arnold kom met ’n gewaagde en ongevraagde hervoorstelling vorendag wat ’n hedendaagse gehoor wat die roman nie ken nie, heeltemal kan vervreem.

Met ongemotiveerde tegnieke soos ’n onstabiele handkamera, ’n verstikkende, don­ker atmosfeer wat die karakters (en kyker) deurentyds in die hel hou en ’n ongebalanseerde verhaal gestroop van romanse, pootjie die regisseur haar poging.

Boonop is die “nuwe” Heathcliff sonder die macho, wilde sjarme en Cathy ’n rond­- lopermeisie wat selde praat en net saam met Heathcliff in die modder rondrol.

Dié weergawe draai die pragtige romanse se nek kort duskant sy stuitjie om en is weer­sinwekkend.

Neem liewer een van die vorige weergawes op DVD uit. Hierdie Wuthering Heights is ’n langdradige, neuro­tiese nagmerrie.

Volg Huisgenoot op Twitter.