Menslike drama.

Teken in op Huisgenoot

Met James Gandolfini, Melissa Leo en Kristen Stewart.

Regisseur: Jake Scott.

13TD.

Begin op 19 Augustus.

Ons dink: 4/5

Waaroor gaan dit?

’n Doodgewone paartjie se huwelik wankel nadat die pa ’n promisku rabbedoe huis toe bring. Maar hy wil haar werklik en onselfsugtig help.

Wie sal hiervan hou?

Lesers wat dink voor hulle hul vingers in ’n springmielieboks steek en wat nie meganies fliek nie.

Dus moet jou grys breinselle vol elektrisiteit wees en jou aandag ten volle by die fliek. Dan behoort jy hierdie menslike drama oor omgee, toewyding en liefde te waardeer.

Hier is geen sepiegehoorvriendelike storieslenters nie; dus: Moenie dink jy kan voorspel wat gaan gebeur nie.

Elke toneel kinkel die rolprent in ’n nuwe, gemotiveerde rigting waarin van Amerika se topakteurs, veral die Oscar-wenner Melissa Leo, die kans kry om hul tande behoorlik in ’n rol te slaan.

Die rolprent plaas jou verantwoordelikheid vir die rigting waarin jou lewe beweeg stewig onder die vergrootglas deurdat Kristen Stewart, in haar beste vertolking nog (myle verwyder van haar klipgesiggie in Twilight!), gestalte gee aan ’n verwarde en gepynigde meisie se konfrontasie met haar eie swakhede.

Al beweeg die rolprent stadig, sal hy diegene ryklik beloon wat enduit sit. Stewig en moeilik maar knap.

Soortgelyke flieks

Ordinary People, Running with Scissors, The Fighter.

Springmieliefeite

*Kristen Stewart se bynaam is KStew.

*Sy moes bruin kontaklense dra vir haar rol in die Twilight-sage.

*Hayden Panettiere sou die rol van Jodie Foster se dogter in The Panic Room (2002) gespeel het, maar weens probleme moes sy haar onttrek en het Kristen Stewart haar eerste groot rolprentrol gekry.

*Sy was in ’n verhouding met Lords of Dogtown se Michael Angararo tot Robert Pattinson haar afgevry het.

Volg Huisgenoot op Twitter.