Drama.

Met Tilda Swinton, John C. Reilly en Ezra Miller.

Regisseur: Lynne Ramsay.

16TG.

Begin op 27 Januarie.

Waaroor gaan dit?  

’n Verpletterde ma probeer desperaat haar waardigheid behou nadat haar seun, ’n sosiopaat, ’n tragedie veroorsaak en die gemeenskap haar daarvoor blameer.

Wie sal hiervan hou?  

Dit is emosioneel een van die mees verontrustende rolprente wat jy ooit sal sien. Dit is dus vir fliekfoendi’s en lesers wat hou van dramatiese, brutaal ontsenuende rolprente.

Dié verwoestende fliek sit nie ’n voet verkeerd nie. En met die fenomenale spel van Tilda Swinton as die vernielde ma, styg dit nog meer in artistieke waarde.

Hier kom Oscars! Die rolprent kry die onmoontlike reg: om onder die vel en in die siel van ’n bedroefde vrou in te kruip wie se seun haar hele lewe brutaal vernietig het met ’n genoegdoening en gewetenloosheid wat hom as ’n sosiopaat ontmasker.

Dit is dan ook seker een van die beste studies ooit van ’n sosiopaat wat van die oomblik van geboorte af die wêreld haat en sy ouers manipuleer en verkleineer tot die ma na breekpunt gedryf word.

Ezra Miller gee nuwe dimensie aan ’n rol wat in ander rolprente vervlak word tot ’n stereotiepe skurk.

Maar dit is die empatie wat die regisseur vir die ma skep en die hel waardeur sy saam met ons worstel wat so ’n verlammende en radikale invloed op die gehoor het.

Maak gereed vir die jaar se top-drama-ervaring, maar een wat jou sal onthuts en wat dae lank by jou sal spook. Rateltaai!

Soortgelyke flieks

Boy A, Notes on a Scandal.

Springmieliefeite

* Tilda Swinton het al in galerye in ’n glaskas gelê en slaap as deel van ’n uitstalling, elke keer ’n week lank.

* Prinses Diana was een van haar klasmaats op skool.

Sy het reeds drie keer die rol van mans of geslaglose wesens gespeel.

Volg Huisgenoot op Twitter.