Ons dink: 3/5

Drama.

Met Jeremy Irvine en Emily Watson.

Regisseur: Steven Spielberg.

13 MG

Begin op 24 Februarie.

Wees verseker: Jy gaan óf in ’n beswyming verval oor hierdie sentimentele Steven Spielberg-rolprent óf jy gaan die naarwordsakkie nader trek, want jou emosies gaan wipplank ry.

’n Oulike jong Brit (die talentvolle Jeremy Irvine) maak net voor die Eerste Wêreldoorlog maats met ’n kampioenperd, Joey.

Maar toe die perd aan die Britse weermag verkoop word en die jong man self in die oorlog moet veg, word dit ’n moedige stryd om oorlewing vir albei.

Lesers wat Spielberg ken, sal weet baie van sy rolprente is soetsappig. Dié een het meer stroop oor as jou ouma se vetste koeksister. ’n Mens verstik soms in die oormatige versuikering.

Tog is die fotografie asemrowend. Spielberg benader die rolprent as ’n lewegewende epos, kompleet met rosige sonsondergange, biggelende trane en nuuskierige perde-oë wat hartseer in die kamera staar.

Die rolprent is te lank (2 uur en 15 minute) en die wroegende emosie werk eintlik teen die rolprent in. Maar as sentimentele, outydse vermaak vir mense wat van ontroerende stories hou, is dit nommerpas. Dit sal elke moederhart tot in die derde geslag roer.

Volg Huisgenoot op Twitter.