Biografie. Met Forest Whitaker, Oprah Winfrey en Robin Williams. Regisseur: Lee Daniels. 13TGV. Begin op 8 November.

Lesers moet besef dis ’n moeilike, lang en stadige rolprent dié. Slegs mense wat werklik rolprente as kunsvorm ondersteun of wat wil weet wat gebeur het met Eugene Allen (hier genoem Cecil Gaines), sal dit waarskynlik waardeer. Dit vertel die ware, tragiese verhaal van ’n jong swart seun wat op ’n katoenplantasie werk en sien hoe ’n rassistiese boer (Alex Pettyfer in ’n verbasend kru vertolking) sy pa doodskiet. So beland hy in die huis en leer om ’n butler te word. Eindelik het hy as persoonlike butler vir agt Amerikaanse presidente gewerk. Die rolprent bring hulde aan hom en gee ’n blik op die Amerikaanse geskiedenis. ’n Mens kyk met respek na sy lewe, maar enkele dinge pla: Dis te lank en te doelbewus stadig, wat sy trefkrag verminder. Boonop slaag Lee Daniels nie altyd daarin om raak portrette van die verskillende Amerikaanse presidente te teken nie. Daardie tonele is soms lukraak en te vlietend. Maar wat dit ’n viersterrolprent maak, is die intense, simpatieke spel van Forest Whitaker en die puntenerige en deeglike navorsing van die draaiboekskrywer, wat elke aspek van Cecil se lewe vervleg in ’n mosaïek van geskiedkundige tonele wat in tyd rondspring, maar daarom juis die ironie in die situasies treffend belig.

Ons dink 4/5

- Leon van Nierop