Drama. Met Israel Broussard, Katie Chang en Emma Watson. Regisseur: Sofia Coppola. 13DT. Begin op 15 November.

Die waarheid is inderdaad vreemder as fiksie.  Hierdie fliek, wat 90 minute duur en waarin ’n groep futlose, doellose tieners dwelms gebruik en bekendes soos Paris Hilton se huise beroof sodat hulle later by partytjies kan spog met “Paris se skoene” of “Lindsay se geld”, is knap en boeiend. Coppola stel met ’n raakvatstyl ondersoek in na die verslawende aspek van rykdom, dwelms en partytjies, en die rolprent ontvou soos ’n speurroman, veral omdat die karakters ook tussenin erken wat hulle gedoen het. Ouers sal onthuts kyk na wat kinders agter hul rug doen en dan met sedige gesiggies ’n stukkie blaarslaai aan tafel verorber omdat hulle te hoog is om ordentlik te eet. Aanvanklik het die rolprent ’n lig-speelse kwaliteit en kan die karakters se optrede afgemaak word as nuuskierige kattekwaad, maar toe hulle al om die ander aand rooftogte uitvoer en geld en ander persoonlike besittings skaamteloos steel, deel The Bling Ring ’n paar venynige knype uit. Gaan kyk as jy wil sien tot watter euwels verveling kan aanleiding gee. Ons dink 3/5

- Leon van Nierop