Biografie. Met Idris Elba, Naomie Harris en Terry Pheto. Regisseur: Justin Chadwick. 10TGSV. Begin op 29 November.

Besweer alle vrese wat julle kon gehad het oor buitelanders wat ’n rolprent oor oudpres. Nelson Mandela en Suid-Afrika maak. Justin Chadwick se navorsing was so deeglik dat hy die atmosfeer en kultuur van ons land knap en met respek en insig vasvang. Die uitmuntende Idris Elba (hoewel die aksent soms glip) as Madiba en Naomie Harris as Winnie Mandela lewer vertolkings uit die boonste rakke.  Dit probeer nie oordadig vleiend of polities korrek wees nie, en wys Nelson en Winnie ook met gebreke. Hulle is ook maar net mense, iets wat die rolprent onpartydig uitbeeld. Maar dis Mandela se bomenslike vergewingsgesindheid, sy wysheid, rustigheid, kalmte, gesag en die verantwoordelikheid waarmee hy ’n bloedige land verby ’n burgeroorlog gestuur het, wat uitstaan. Uiteraard is dit ’n buitengewone taak om te besluit waarop om te konsentreer wanneer so ’n groot lewe uitgebeeld word, maar die draaiboekskrywer het sleuteltye geïdentifiseer. Dis ook so verfilm dat die rolprent nie in ’n opruiende politieke toespraak verander nie, maar tog met respek en deernis na ’n formidabele staatsman kyk. Sterk aanbeveel. Ons dink 4/5

- Leon van Nierop