Biografie. Met Ashton Kutcher, Dermot Mulroney en Josh Gad. Regisseur: Joshua Michael Stern. 10-12OT. Begin op 18 Oktober.

Die loopbaan van Steve Jobs, die uitvinder en medestigter van die beroemde Apple-maatskappy, is ná sy dood dikwels in boeke en dokumentêre rolprente weergegee. Sy bewonderaars ken teen hierdie tyd die storie van ’n hippie-rebel wat in opstand gekom het teen konvensies. Die maatskappy wat hy in ’n motorhuis geskep het, het een van die suksesvolste sakeondernemings nog geword. Om die sexy, liggewig Ashton Kutcher in die rol te sit van ’n ambisieuse man met priemende, skerp oë en ’n fenomenale intellek, was ’n fout. Kutcher bly ’n mooi sitkom-akteur wat nie naastenby gewig aan hierdie geniale sakeman en uitvinder gee nie. Boonop spring die rolprent soos ’n kat op ’n warm sinkdak oor die belangrikste gebeure in sy lewe sodat ’n mens net los grepe uit Jobs se lewe sien. Dus is die vertelstyl gefragmenteer, met te min aandag aan Jobs as mens. Was hy ’n skurk of ’n genie? Die rolprent is oppervlakkig en kunsmatig vermaaklik, met koel uitvinders wat die onmoontlike in glansryke kameraskote regkry, en dit laat nie reg aan die legende geskied nie. Lees liewer die boek. Kutcher moet by sitkoms bly; sy vertolking omlyn Jobs se genialiteit hoegenaamd nie. Tog is Josh Gad puik as Jobs se vriend Steve Wozniak. Ons dink 2/5

- Leon van Nierop