Drama. Met Eric Bana, Rebecca Hall en Jim Broadbent. Regisseur: John Crowley. 10-12OTG. Begin op 1 November. 

Dat ’n rolprent wat so belowend begin (nes The Parallax View) nou so kan uitrafel asof die draaiboekskrywer onbevoeg was om die spanning vol te hou en die prikkelende storie na ’n skokkende en logiese klimaks te voer. ’n Bom ontplof in Londen by ’n gewilde toeristeaantreklikheid. Elke beweging word op geslotekringtelevisie dopgehou. ’n Terroris word in hegtenis geneem en twee advokate wat tevore minnaars was, moet hom verdedig. Is hy werklik skuldig? Dan slaan die rolprent jou met ’n onverwagte skokonthulling. Tot hier slaag John Crowley daarin om jou vasgenael te hou asof jy na ’n Agatha Christie-wie-het-dit-gedoen-riller kyk, waar elke nuwe toneel ’n vars kinkel in die kabel sit. Veral Rebecca Hall beïndruk met haar neurotiese, puntenerige karakter wat sy menslik en oortuigend maak. Maar dan raak die storie ingewikkeld en die geslotebaantelevisie-tema rafel uit en lei nêrens heen nie. Eric Bana, ’n knap akteur met ’n goeie reputasie, lyk so belangeloos en ongeinteresseerd dat sy protagonis vervaag en Hall hom onder die tafel in speel. Maar Londen verander deur die atmosferiese kamerawerk in ’n donker doolhof van onheil wat mense terroriseer – daardie element werk dus. Tog raak die skrywer die kluts kwyt en onderskat sy gehoor met ’n onbevredigende einde.

Ons dink 3/5

- Leon van Nierop