Drama.

Met Caitlin Stasey, Lincoln Lewis en Deniz Akdeniz.

Regisseur: Stuart Beattie.

13TG.

Begin 15 April.

Ons dink: 3/5

Waaroor gaan dit?

’n Groep byderwetse Australiese skoolkinders gaan uitkamp, maar met hul terugkeer beskawing toe het ’n vreemde moondheid hul land ingeneem.

Wie sal hiervan hou?

As jou hart jonk is en jou vingers eelte het van SMS’e stuur, kan hierdie loslit-oorlogsdrama met sy moderne houding jou kliere kielie.

Dis so reg in die skoolboeksak van iPad-gebruikers wat videospeletjies op hul selfoon speel en op Facebook boer.

Die spelers val sag op die oog en die gevegs-tonele is lekker taai en uitbundig. En dis lekker om ’n slag koel melkbaarde te sien wat rateltaai ou ballies omklits, dikwels op ’n meer realistiese manier uitgebeeld as gewoonlik in wetenskapsfiksierolprente.

Hierdie jeugprent het meer om die lyf as sespakke en testosteroon. Dit wys dat jonges ook kan oorlog maak, al het hulle nie Kamp Staaldraad bygewoon nie, en dat wetenskapsfiksie steeds vernuwend kan wees met ’n popmusiek-ritme in sy stem.

Die jong spelers bewys dat hulle ’n rolprent kan dra en dat loslit-laaglê-dudes wel patrioties en dapper kan wees as hul land bedreig word. Koel.

Soortgelyke flieks

I Am Number 4, The Big Red One.

Springmieliefeite

*Verlede jaar was dit Australië se topfliek wat inkomste betref en het dit selfs rekords laat spat.

*Lincoln Lewis is die seun van die bekende rugbyspeler Wally Lewis.

*Deniz Akdeniz het reeds op agt professioneel begin toneelspeel. In sy vrye tyd is hy ’n kranige sokkerspeler.