Ons dink: 3/5

Spioenasiedrama.

Met Gary Oldman, Tom Hardy en Kathy Burke.

Regisseur: Tomas Alfredson.

Ouderdomsperk nog nie bekend.

Begin op 9 Maart.

Genade, wat ’n stram rolprent! Dikwels vergaap jy jou aan briljante regie, Oscar-waardige spel en ’n beklemmende styl. Maar dié rolprent maak op geen vlak met jou kontak nie.

Dit is soos om na ’n pragtige skildery deur ’n toegewasemde venster te kyk: Jy weet jy sien iets groots, maar dit wil nie behoorlik vorm aanneem voor jou oë nie.

Weet dus: Hierdie drama stel uiters hoë vereistes aan jou sitvlak en geduld.

Dit is gegrond op John le Carré se spioenasieverhaal wat in die Koue Oorlog afspeel.

Die bobaasspioen George Smiley (fenomenaal gespeel deur Gary Oldman) word teruggeroep uit sy gerieflike lewe as pensioentrekker om ’n spioen uit te snuffel wat geheime aan die Russe oorsein.

Wie is die skurk?

Tomas Alfredson se styl is tydsaam en pikdonker. Soms kom die rolprent amper heeltemal tot stilstand terwyl die regisseur ’n paranoïese, neurotiese atmosfeer van onthutsende beklemming en vrees skep waar almal mekaar verdink.

Net aan te bevele vir lesers wat hul spioenasiedramas ernstig opneem sonder kommersiële Bond-foefies.

Volg Huisgenoot op Twitter.