Swart komedie. Met Liam James, Toni Collette, Sam Rockwell en Allison Janney. Regisseurs: Nat Faxon en Jim Rash. 10OT. Begin op 13 September.

Dié deerniswekkende komedie oor grootword is waarskynlik een van vanjaar se topdrie rolprente. ’n Bleeksiel (briljant onderspeel deur Liam James) pas nêrens in nie, veral nie nadat sy ma met ’n boelie (die verrassende Steve Carell) trou nie. Maar ’n vakansie in ’n waterspeelpark verander almal se lewens. Bleeksiele word maklik ’n bespotting wat Hollywood misbruik wanneer hul idees opraak, maar nie dié keer nie. Elke fliekganger sal hom met dié verlate, lomp maar slim seun kan vereenselwig wat net wil wees – nie ’n superster of ’n prikkelprins nie, maar ’n doodgewone laaitie. Sy pad na aanvaarding, veral nadat hy die onortodokse bestuurder (Sam Rockwell) ontmoet, sal jou aangryp en inspireer soos The Perks of Being a Wallflower laas reggekry het. Hier is regte egte mense wat asemhaal en in wie se lewe die klein katastrofes lei tot heerlike verwarring, waaruit die regisseurs oortuigend sin maak. Dit boei en kleur jou lewe met prikkelende en oorspronklike karakters wat jy almal uit jou eie lewe sal herken. Allison Janney lewer maklik die snaaksste vertolking van die jaar. Dié fliek sal jou bui verbeter en jou weer moed gee vir die lewe. So moet ’n fliek mos lyk. Ons dink 4/5

- Leon van Nierop