Drama.

Met Jim Sturgess, Saoirse Ronan en Colin Farrell.

Regisseur: Peter Weir.

10MTG.

Begin op 13 Mei.

Ons dink: 2/5

Waaroor gaan dit?

’n Groep krygsgevangenes loop 3 000 km van Siberië na Indië om van wrede Nazi’s en kommuniste te ontsnap.

Wie sal hiervan hou?

Net deurwinterde avonturiers wat graag rugsakke pak en die Visrivier Canyon kaalvoet aanpak. As vermaak ontketen dit skaars ’n beweging op die Richterskaal.

Enersyds het ’n mens groot respek en bewondering vir die gevangenes (en akteurs!) wat hulleself verniel en verrinneweer het om maande lank deur onherbergsame terrein te swerf op pad na vryheid.

In daardie opsig bring dit hulde aan ’n stryd om oorlewing. Andersyds is dit ’n hellevaart.

Die gehoor word eweneens aan kwaai ontberings onderwerp om hulle onder die indruk te bring van die hel waardeur hierdie mense is.

Die vraag is net: Wil jy byna R50 betaal om jou tyd in ysstorms, dorre woestyne en oerwoude vol wilde diere deur te bring terwyl jy na iets gemakliker kan kyk?

Regiegewys is die rolprent knap en word geen moeite of realisme ontsien om reg te laat geskied aan hierdie uitmergelende reis nie. Maar as ’n rolprent raak dit eentonig en hopeloos te lank.

’n Mens moet hare op jou bors hê om hierdeur te sit. Jy strompel self verweer hieruit!

Soortgelyke flieks

The Book of Eli, Alive.

Springmieliefeite

*Die roman, gegrond op Slavomir Rawicz se veronderstelde ware avonture, was ’n blitsverkoper en was weke lank boaan die gewildheidsleer.

*Maar in 2009 vind die owerhede uit dat die verhaal skynbaar nie waar is nie en dat Rawicz deur die Nazi’s uit die kamp vrygelaat is.

*Saoirse Ronan het ’n rol in The Lovely Bones gekry sonder dat sy teenoor die regisseur oudisie het.