Ons dink: 3/5

Romantiese drama.

Met Channing Tatum en Rachel McAdams.

Regisseur: Michael Sucsy.

10MT.

Begin op 11 Mei.

Teken in op Huisgenoot

Is jou hart vodde en jy soek troos in ’n fliek? Is jy tot oor jou ore verlief, maar jou liefde bly onbeantwoord?

Dan sal hierdie romantiese drama jou hart warm laat klop.

Dis boonop op die waarheid gegrond. Channing Tatum speel die rol van ’n doodgewone ou wat dol is oor sy nuwe vrou (Rachel McAdams).

Ná ’n motorongeluk verloor sy haar geheue en kan glad nie onthou wie hy is nie. Dit is dus die jong man se werk om sy vrou van voor af op hom verlief te maak en hy haal alles uit en wys.

Met fyn insig en delikate kwasstrepe skets die regisseur die tragiese liefdesverhaal met soveel empatie dat jy doringdraad om jou siel moet hê om nie ’n traan weg te pink nie. Tog moet lesers wat sentiment verpes, wegbly, want The Vow smokkel met jou sinisme.

Dis die soort romantiese tranetrekker waaraan jy jou onvoorwaardelik moet oorgee.

Hoewel dit moedswillig met jou traankliere peuter, is dit tegelyk deerniswekkend en wonderlik sentimenteel. Soos in The Notebook kruip dit ondanks manipulering onder jou vel in en verwonder ’n mens jou opnuut aan die lewegewende krag van die liefde. Dit word aanbeveel.

Volg Huisgenoot op Twitter.