Ons dink: 2/5

Eksentrieke drama.

Met Johnny Depp, Richard Jenkins en Giovanni Ribisi.

Regisseur: Bruce Robinson.

Ouderdomsbeperking nog nie bekend.

Begin 25 Mei

Die skrywer Hunter S. Thompson is op 67 oorlede ná ’n veelbewoë lewe. Die fliek Fear and Loath­ing in Las Vegas, wat gegrond is op sy gelyknamige boek, het ons destyds insig in sy gedagtes gegee.

Johnny Depp, wat die hoofrol vertolk het, het Thompson bewonder en kom toe ná sy dood af op die roman The Rum Diary, wat nou in ’n rolprent om­skep is.

Dis ’n aweregse, eksentrieke ervaring waarvoor jou brein in eerste rat moet wees om toegang tot Thompson se makabere lewe te kry.

Enersyds moet jy rustig wees en laaglê om in te skakel by Thompson se sonderlinge wêreld; andersins moet jy uit­haal en wys om waarde vir jou geld te kry.

Die rolprentweergawe is nie heeltemal geslaagd nie, want sy slenterstap is te terloops om gehore te betrek. Dis of die rolprent met die oog op Thompson-dissipels of sy familie vervaardig is.

Dit gaan oor die eksentrieke joernalis Paul Kemp (Thompson?) wat op Puerto Rico beland en by ’n koerant vryskut nadat hy by talle ander ontslaan is. Hy ontmoet mense wat sy lewe nog meer absurd maak.

Net as jy in ’n buitensporig avontuurlike bui is.

Volg Huisgenoot op Twitter.