Ons dink: 1/5

Romanse.

Met Katie Holmes, Anna Paquin en Josh Duhamel.

Regisseur: Galt Niederhoffer.

13MDT.

Begin op 8 Junie.

Praat van ’n neurotiese klaaglied! Hierdie Katie Holmes-fliek spog met mooi mense wat in sagte beligting aanlok­lik lyk en smart omskep in ’n oppervlakkige fliekfoefie.

’n Mens moet blykbaar prag­tig, volmaak gebou, ge-Photoshop en wroegend wees om die liefde te ervaar. En selfs dan moet dit ongelukkig eindig.

Dié langdradige poging tot romanse gee The Lucky One opdraande wat betref melodrama, donker stiltes, ja­loesie, seksuele frustrasie en onmin onder verliefdes.

’n Hartebreker, Josh Duhamel, gaan trou. Sy bruid is True Blood se Anna Paquin. Dus is daar oorgenoeg supersterre.

Die enigste dadelpit in die troukoek is dat Kate Holmes, een van die strooimeisies, nog altyd op die prikkelprins verlief was. Maar sal sy hom afvry?

Dié gemaak elegante, vals en onsamehangende liefdesverhaal stel hoë eise aan jou sitvlak en humeur.

Die verhaal kom nie tot ’n punt nie en teen die einde rafel dit liederlik uit. Dit wil moraliserend wees, maar die enigste stukkie morele bood­skap wat dit aan kykers oordra, is om nie jou geld daarop te mors nie.

Esoteries, skraps aan impak en vervelig. Koop liefs springmielies en eet alles in die voorportaal op.

Volg Huisgenoot op Twitter.