Drama. Met Ryan Gosling, Bradley Cooper en Eva Mendes. Regisseur: Derek Cianfrance. 16TGD. Begin op 26 Julie.

Hierdie aweregse kragtoer vol donker geheime, woeste frustrasies en emosionele uitbarstings is ’n aangeleerde smaak. Óf jy stem saam met die drie sterre óf, soos in Silver Linings Playbook, jy storm fliekgangers boos en katswink uit die film. Jy moet in die regte (siniese) bui wees daarvoor, fliekkuns ondersteun wat tematies en tegnies grense verskuif, en dink Ryan Gosling is ’n fenomeen. Hierdie lang, moeilike rolprent begin toe ’n motorfietswaaghals hoor hy het ’n baba. Hy begin banke beroof om vir die kleinding te sorg, tot ’n aggressiewe polisieman (Bradley Cooper) sy spoor ruik. Die rolprent flits dan na “jare later”, wat hom sy vierde ster kos, want dit voer die storie te ver. Maar die eerste 90 minute is stylvol, cool met 'n houding en insiggewend. Dit dring die brein van ’n psigopaat filmies binne en sweep die gehoor aan sy kant op, net om hulle gruwelik te ontnugter. Hierna klits die regisseur enige sin van geregtigheid na die maan toe sy draaiboek ’n woeste kinkel in die kabel kry en daarna ongelukkig buite beheer raak. Maar as ’n eksperiment in styl, storietegniek en kinematografie wat onder karakters se maskers inkruip, is dit besete! Absoluut net vir deurwinterde fliekfoendi’s. Het jy genoeg moed?

- LEON VAN NIEROP