Ons dink: 2/5

Romantiese drama.

Met Zac Efron, Taylor Schilling en Blythe Danner.

Regisseur: Scott Hicks.

13S.

Begin op 25 Mei.

O, allawêreld! Snuif, snuffel en trane is aan die orde van die suikersoet dag in hier­die hoogs gewone tranetrekker uit die pen van Nicholas Sparks.

Hy is die skepper van melodramas soos die prag­tige The Notebook, maar het ook romans soos Dear John en The Last Song gepleeg, wat minder goed was.

In The Lucky One slaapwandel Zac Efron deur ’n rolprent wat handel oor ’n Amerikaanse soldaat wat uit Irak terugkeer.

Tydens sy laaste verblyf sterf hy amper en kry ’n foto van ’n meisie wat hy as ’n gelukbringer beskou. Hy gaan besoek die blondine (Taylor Schilling) dan en hulle raak natuurlik verlief.

Dis ’n voorspelbare fliek, die soort waarheen jy op ’n toe-oë-afspraak gaan, want jy weet wat jy kry.

Van die derde toneel af weet jy hoe die outydse, geykte storie gaan eindig wat in mooi prentjies vertel word. Dit hou so getrou by die resep, nie eens McDonald’s kan hom dit nadoen nie.

Efron lyk ongemaklik as ’n macho soldaat met ’n verlede en pas nie in die rol nie, en Blythe Danner moet ekstra geld vra as die stereotiepe ouma wat die regte geluide op die verkeerde plekke maak.

Net vir verliefdes wat selde gaan fliek.

Volg Huisgenoot op Twitter.