Drama.

Met Matthew McConaughey, Marisa Tomei en Ryan Phillippe.

Regisseur: Brad Furman.

16TG.

Begin 3 Junie.

Ons dink: 3/5

Waaroor gaan dit?

’n Verwaande, moedswillige loslitprokureur verdedig ’n laventelhaantjie wat van moord aangekla word. Dan meng die jors se ma in.

Wie sal hiervan hou?

Lesers wat The Good Wife op TV volg en honger is vir ’n goeie hofdrama.

Hierdie aweregse fliek met sy onverskillige houding en knap draaiboek slaan jou kort-kort vir ’n ses.

Moet dus nie vir ’n oomblik ’n beskeie hofdramatjie soos op TV verwag wat gerieflik voor die laaste soen opgelos word nie.

Dié aanskoulike rolprent kielie jou snare en sit woema in jou kop, want jy probeer gedurig om een skuif voor die slimkoppe te wees wat die skelms probeer vastrek.

Die draaiboek is pittig en vol onverwagte kwinkslae met komkommerkoel dialoog en wispelturige karakters. Die draaiboekskrywer lei jou graag aan die neus rond en tart jou logika met ’n paar storieslenters wat jou na jou asem sal laat snak.

Dit is die ideale ogiesmaakfliek: As jy iemand in die oog het en jy wil dié beïndruk met ’n intelligente, verrassende keuse, sleep jou ou of meisie hierheen.

Behalwe dat Matthew McConaughey deesdae die koelste knaap op die silwerdoek is, skater ’n mens vir sy venynige tong wat geniepsige slae toedien.