Drama.

Met Emma Stone, Jessica Chastain en Viola Davis.

Regisseur: Tate Taylor.

10MV.

Begin op 7 Oktober.

Ons dink: 4/5

Waaroor gaan dit?

’n Dapper wysneus hou haar lyf skrywer toe sy die probleme van swart vroue in rassistiese huishoudings kaalkop pak en ’n boek daaroor skryf. Dit veroorsaak groot konsternasie.

Wie sal hiervan hou?

Lesers wat ’n kleintjie dood het aan rassisme, sal hierdie rolprent sommer twee keer gaan kyk.

Sonder om op ’n preekstoel te klim, verduidelik hierdie onberispelike konfrontasie met rassisme hoe ’n goeie verstandhouding, die afbreek van vooroordele en ’n hart wat vla pomp ’n gemeenskap wat in twee kleurkampe verdeel is, kan verenig.

Vooroordele word in ’n ontspanne, deeglik deurdagte, leersame gedaante oopgespalk en doen meer vir die bekamping van rassisme as enige grootdoenerige kanselrede.

Emma Stone skitter blink as die dapper Dolla wat die probleme van swart vroue wat ly onder verwaande rassiste sonder skroom aanvat.

Met haar bewusmakingsprojek breek sy grense af en trap sy aanstellerigheid se tjank af.

Jessica Chastain van The Tree of Life-faam bewys sy is Hollywood se nuwe Meryl Streep met haar stuitige karakterisering wat ’n dapper hart verberg.

Dis bepaald een van vanjaar se toonaangewende rolprente dié en gaan met Oscar-benoemings wegstap.

Jou hart sal vermurwe en jou siel sal in ’n tuimeldroër beland.

’n Fantastiese ervaring wat bewys dat begrip en naasteliefde die onmoontlike kan regkry. Drama en wrang komedie word hier vermeng om ’n daadwerklike en inspirerende rolprent te maak. Puik!

Soortgelyke flieks

Sounder, For Colored Girls.

Springmieliefeite

*Die boek waarop The Help gegrond is, is 60 keer deur uitgewers afgekeur voor iemand dit aanvaar het. Dit het ’n wegholsukses geword.

*Emma Stone is van Sweedse afkoms.

*Haar verhouding met Kieran Culkin is onlangs beëindig.

Volg Huisgenoot op Twitter.