Komedie. Met Melissa McCarthy en Sandra Bullock. Regisseur: Paul Feig. 16TGD. Begin op 23 Augustus.

Ontmoet die twee taaiste bleeksiele aan die regte kant van die wet – en hulle is vroue! Melissa McCarthy en Sandra Bullock is die ideale onpaar paar as ’n polisievrou en ’n FBI agent wat meer testosteroon as enige man het, maar wie se woordeskat ook dieper in die long drop boer as menige hardebaard. Hullehet meer hare op die bors as hul manlike eweknieë, en hul pikswart humorsin laat skurke staalwol oopbek kou. ’n Mens lag ten spyte van jouself. Jy gil, grinnik, skater en trek jou asem geskok in terwyl hierdie twee dollas die onderwêreld op sy pens draai en sy stuitjie kielie. ’n Ernstige waarskuwing: Die humor is banaal vulgêr met meer vierletterwoorde as in jou boetie se boek wat hy onder die matras wegsteek. Maar ’n mens geniet dit, want jy glo aan die natuurlike karakters, vind hul verwronge humorsin snaaks omdat hulle al lewenslank verontreg is deur mans, en verstaan dat hulle wraak neem op ’n chauvinistiese wêreld wat hulle nie ’n bestaan gun nie. Dis die soort platvloerse, kommin, snaakse komedie wat jy saam met vriendinne voor ’n hennepartytjie gaan kyk of jou aan oorgee as jy keelvol is vir mans wat jou nie waardeer nie. Hierdie vroulike The Hangover is rateltaai, maar bitter snaaks. Ons dink 3/5.

- Leon van Nierop