Ons dink: 3/5

Drama.

Met Liam Neeson en Dermot Mulroney.

Regisseur: Joe Carnahan.

16TG.

Begin op 20 April.

Jy speel met lemmetjiesdraad as jy hierna gaan kyk. Vergeet van “vriendelike” wolwe met ’n sexy blokkiesmaag en koel kuiltjies.

Dié diere het nie net lus vir Rooikappie nie; hulle sal mense summier aanval as hulle onbeskut in die wildernis ronddwaal.

In dié venynige, senutergende oorlewingsdrama stort ’n vliegtuig in Alaska neer. ’n Kwaai storm heers en die oor­lewendes moet deur ysreën na veiligheid strompel.

Ongelukkig is die naaste tekens van die beskawing honderde kilometers ver en gulsige wolwe volg op die manne se spoor. Die leierwolf verdra ook nie teenstand nie; daarom staar hy ’n beroepsjagter (Liam Neeson) met gulsige en bloedbelope oë aan.

Die rolprent is genadeloos. Die karakters het dalk ’n grusame ramp oorleef, maar bevind hulle midde-in ’n menigte kwylende, bytende kake. Tog raak die rolprent nooit eentonig nie.

Die manne se oorlewingstryd en pogings om die wolwe te mislei sorg dat jy op die punt van jou stoel sit. As jy aan hoogtevrees ly, is daar ’n bloedstollende bangmaaktoneel.

Wees gewaarsku: Hierdie fliek is genadeloos en brutaal en voel vere vir die karakters. Het jy genoeg moed?