Romantiese drama. Met Julianne Moore, Michael Angarano en Greg Kinnear. Regisseur: Craig Zisk. 13TSD. Begin op 6 September.

Hollywood hanteer skooldramas selde met die nodige respek. Die opbouende invloed wat lewensveranderende onderwysers op jong gemoedere het, word nie altyd na regte ontgin nie. Julianne Moore vertolk die rol van ’n onderwyseres wat alles vir haar leerders doen. Soms te veel, want toe ’n oudleerder (puik spel deur die verrassende Michael Angarano) opduik, gee hy haar ’n toneelstuk wat hy geskryf het, maar wat die skoolhoof nie wil opvoer nie omdat dit glo te donker is vir ontluikende gemoedjies. Sy volhard en raak op die koop toe verlief op hom. (Hy is darem al 21!) Dit het ’n tragikomiese kettingreaksie tot gevolg. Dié prikkelende drama kyk na ’n konserwatiewe skoolstelsel wat eintlik meer skade aanrig as wat dit leerders opvoed, maar is ook ’n waarskuwing dat onderwysers nie te ver buite hul grense moet beweeg nie en verantwoordelik en wys moet wees in hul optrede. Of bly baie onderwysers eintlik maar kinders? The English Teacher is die soort fliek waarheen jy jou meisie (of ou) vir ’n eerste afspraak sal neem. Julle sal die skoolmilieu verstaan en lekker lag vir die dilemmas. Maar iewers sal die boodskap tog indruk maak. Aanbeveel.

– LEON VAN NIEROP