DRAMA.

Met George Clooney, Shailene Woodley en Amara Miller.

Regisseur: Alexander Payne.

Beperking nog nie bekend.

Begin op 3 Februarie.

Ons dink: 4/5

Die lewe van ’n grondbaron in Hawaii word omvergewerp toe sy vrou in ’n koma beland. Hy moet sy disfunksionele gesin bymekaarhou, met onvoorspelbare gevolge.

Lesers wat wil spog dat hulle ’n Oscarbenoemde rolprent gesien het, sal hiervan hou. Resensente in Amerika het die lof besing van dié drama, met George Clooney, en woorde gebruik wat selde in resensies voorkom.

Vir Amerikaners sal dit ’n spesiale betekenis hê, want dit handel oor van hul gunstelingtemas, die gesin, en emosionele verwaarlosing. Dit gaan ook onder meer oor hoe om jou lewe reg te ruk en waarheen jy op pad is.

Die rolprent is veral geloof vir George se knap spel (waarvoor hy bekroon is), maar die jong Shailene Woodley, as sy dogter, trek eintlik die aandag.

Vergeet van ’n melodrama waar gesinsgeraamtes dawerend uit die kas val. Al is daar dramatiese konfrontasies en word die karakters wreed met die waarheid gekonfronteer, sal dié rolprent nie in sepieslawe se smaak val nie.

Niks word met ’n teelepel ingegee of gemanipuleer nie. Feite ontvou logies en dikwels sterk dramaties. Nie almal sal hiervan hou nie, maar selfs teleurgesteldes sal moet erken: Dis ’n baie goeie rolprent.

Volg Huisgenoot op Twitter.