Animasie.

Met Jamie Bell, Andy Serkis en Daniel Craig.

Regisseur: Steven Spielberg.

MG.

Begin op 23 Desember.

Ons dink: 4/5

Waaroor gaan dit? 

Die bekende Tintin, of Kuifie soos hy in Afrikaans heet, gaan saam met sy vergeetagtige oom na ’n verlore skat soek. Die leidrade is onder meer drie modelskippies wat in die verkeerde hande beland.

Wie sal hiervan hou?  

Bes moontlik ouens met jel in hul hare wie se kuif penorent staan van skone baldadigheid en avontuurlus wanneer hulle die prentjieverhaal lees.

As jy nie so vertroud is met Tintin (of Kuifie) se streke nie, kan jy dalk dink die storie is ’n bietjie langdradig en outyds. Maar visueel staan hierdie kuifie so penorent soos ’n haai se slagtersvin deur die water.

Met verbysterende akkuraatheid en ’n fyn aanvoeling vir karakterisering en die akteurs se gesigsuitdrukkings, kry Steven Spielberg dit reg om danksy beweging-kopiëringsmetodes die styl van Hergé se tekeninge nommerpas vas te vang.

Dit is veral in sy spel met lig en skaduwee en die waardigheid en menslikheid van die karakters dat hierdie seun se kuif lewendig word. Maar pasop. Dalk tel die vreemde kultuur (dis baie Europees) teen die rolprent hier in Suid-Afrika, want dit duur ’n ruk voor dit behoorlik in jou hart nesskop.

Maar as die gesofistikeerde storie en vertelstyl ’n mens eers oorrompel, ver-ower die rolprent jou stormerhand.

Die 3D maak die prentjies nog skerper en meer lewendig sodat Tintin se lyfie en ernstige persoonlikheid diep in jou geheue sal nesskop. Interessant, maar nie noodwendig vir Suid-Afrikaners nie.

Soortgelyke flieks

The Polar Express en die Indiana Jones-avonture.

Springmieliefeite

Serkis se pa is ’n dokter in Irak en sy ma gee skool vir gestremde kinders.

Jamie Bell het as sesjarige al sy sussie se dans- en balletpassies nageboots.

Volg Huisgenoot op Twitter.