Drama.

Met Matt Damon en Emily Blunt.

Regisseur: George Nolfi.

13MT.

Begin 10 Junie.

Ons dink: 3/5

Waaroor gaan dit?

’n Politikus se lewe verander toe ’n skrikwekkende groep manne hom meedeel sy lewe is volgens ’n plan vooruitbepaal. Wat gebeur as hy verlief raak en die meisie nie deel is van sy toekomsplan nie?

Wie sal hiervan hou?

Hoe dikwels kan ’n liefdesverhaal oorvertel word? Hierdie rolprent neem die verhaal van twee mense wat halsoorkop verlief raak en keer dit op sy kop.

Daar kom ’n bietjie wetenskapsfiksie by met ’n skeutjie Romeo en Juliet en ’n stewige dosis Inception, en siedaar! –’n nuwe soort romantiese drama ontstaan soos jy nog nie tevore gesien het nie.

Die rolprent gaan van die veronderstelling uit dat ’n hoër mag bepaal hoe iemand se lewe gaan verloop.

En dit maak nie saak watter planne die outjie maak nie, sy lewe sal altyd op ’n sekere pad geplaas word.

Maar wat word van vrye keuse? Mag ’n mens nie self oor jou eie lotgevalle besluit nie of is daar ’n hoër krag wat jou na sekere ontmoetings en rampe stuur? En is die liefde sterker as die noodlot?

Hierdie vrae word op ’n hoogs vermaaklike manier beantwoord in ’n lekker jaagtogfliek wat nooit die kluts kwytraak of buite beheer raak nie.

Emosie speel ook ’n belangriker rol as gewoonlik. Dus, as jy ’n liefdesverhaal met ’n nuwe, vars kinkel soek wat wetenskapsfiksieverslaafdes ook sal tevrede stel, is dié een vir jou.

Matt Damon en die pragtige Emily Blunt het ’n wonderlike energie en verhouding. Probeer hom, hy is anders!

Soortgelyke flieks

The Bourne Identity, Inception.

Springmieliefeite

*Emily Blunt het gehakkel as kind, maar toe sy die eerste keer op 12 op die verhoog verskyn, het die hakkel skielik verdwyn.

*Sy sou die rol van Rachel in The Dark Knight vertolk het, maar Maggie Gyllenhaal het dit toe gekry.

*Sy is getroud met die akteur John Krasinski en was in ’n verhouding met Michael Bublé.