Ons dink: 2/5

Swart komedie.

Met Mark Wahlberg en Mila Kunis.

Regisseur: Seth MacFarlane.

16TDNVS.

Begin op 24 Augustus.

As jy na die ouderdomsperk kyk, waarsku die publikasieraad teen letterlik elke “sonde” wat daar is. Die rolprent kan geweldig aanstoot gee op alle terreine, en mag slegs geniet word deur jonges bo 16, spesifiek dié wat vir hul koel pelle

wil bewys hulle vang elke vuil grap en is byderwets genoeg om dit te oorleef.

Maar dié skurwe rolprent neem dinge te ver en raak moedswillig; dis soos ’n stout seuntjie wat sy ouers tart met vulgariteite en kyk hoe lank dit duur voor hy pak kry. Dit kan gruwelik skok.

Dit gaan oor ’n man wat nooit grootgeword het nie. Hy wens sy teddiebeer word lewend, en toe dit gebeur, vorm hulle ’n adolessente bondgenootskap.

Maar die beertjie het die vuilste bek sedert Sacha Baron Cohen en vloek, skok en kafoefel tot dit teen sy wange afloop. Dit spot met manne wat nooit grootword nie en bang is om die verantwoordelikheid van die liefde te aanvaar; ook met woeste ouens wat motors as krukke gebruik teen die werklikheid.

Maar MacFarlane (van Family Guyfaam) gaan te ver. Jy kan net so lank lag vir ’n beertjie wat laster, opgooi en meisies verlei wat oud genoeg is om sy ma te wees. Pasop!

- Leon van Nierop