Jeugkomedie.

Met Ivan Botha, Andrew Thompson en Rika Sennett.

Regisseur: Stefan Nieuwoudt.

13T.

Begin 21 April.

Ons dink: 3/5

Waaroor gaan dit?

’n Groep bleeksiel-strokiesaanhangers se winkel gaan gesluit word omdat hulle R100 000 skuld. Sal hulle betyds geld kry om sy voortbestaan te verseker?

Wie sal hiervan hou?

Net koel ouens en meisies onder 25 wat die lewe gemaklik vat, ’n straatslim wikkel in hul stappie het en wat meer van twiet af weet as van die land se politiek.

Die drie sterre word suiwer toegeken omdat die vervaardigers hul mark so goed ken en raak geteiken het. Ook omdat hulle presies verstaan hoe om vir die Afrikaanse jeug ’n fliek te gee waarmee hulle identifiseer.

Enige volwassene wat nie bygehou het met waarvan jonges hou nie, sal ná die eerste kragwoord flou word. Die (warm) dialoog is koel en die storie maak sin soos Kevin Smith-flieks “sin” maak.

Dis moedswillig anders, praat ’n jong lat se taal en het boonop ’n positiewe boodskap: Moenie dat ander jou lewe vir jou leef nie. Dis koel en funky om jonk maar verantwoordelik te wees.

Aan die negatiewe kant wys die rolprent se klein begroting in produksiewaardes, wat ironies genoeg pas by sy loslit strokiestyl wat suksesvol deur die regisseur aangewend word, maar nie al die vertolkings skakel in by die laaglê-styl nie.

Sommige is darem te oordrewe en stereotiperend. En Afrikaanse jeugkomedies moet nou regtig ophou om kamp stereotipes soos slappols-haarkappers te gebruik vir goedkoop en maklike giggels. Hierdie komedie verdien meer as sulke verkleinering.

Tog is die jong aanslag dapper, vermaaklik vir onder 25’s en ’n interessante rigting vir die Afrikaanse rolprentbedryf.

Soortgelyke flieks

Bottle Rocket, Mall Rats, Dogma.

Springmieliefeite

*Ivan Botha en Andrew Thompson het self die draaiboek geskryf.

*Die meeste van die mense agter die skerms het by die TUT-film-en-dramaskool in Pretoria studeer.