Gewelddrama.

Met James Marsden, Kate Bosworth en James Woods.

Regisseur: Rod Lurie.

16GT.

Begin op 18 November.

Ons dink: 4/5

Waaroor gaan dit?

’n Draaiboekskrywer wat oor geweld skryf, maar nie daaraan glo nie, kom met sy sexy vrou in ’n gewelddadige gemeenskap aan. ’n Groep teertoue doen herstelwerk aan sy skuur, maar vind sy vrou meer as sexy. Dan bars ongekende geweld los.

Wie sal hiervan hou?

As jy destyds in 1971 met die oorspronklike Sam Peckinpah-gruweltreffer naar geword het, kan jy hierdie een net so gewelddadig en ontstellend vind.

Dit wys dat ’n pasifis, wat nie aan gewere glo nie, in die gruwelikste geweldenaar van almal kan ontaard as sy vrou en huis bedreig word. Dit wys wat gebeur wanneer ’n doodgewone man te ver gedryf word.

Vir Suid-Afrikaners, wat daagliks met geweld en ’n machokultuur saamleef waar manlikheid sekere ongeskrewe reëls vereis, is die rolprent tydig en van toepassing op ons. Wat sal gebeur indien jý, wat net in vrede wil lewe, skielik gewelddadig bedreig word?

’n Ernstige waarskuwing: Die rolprent is opruiend en brutaal gewelddadig met ’n bitter ontstellende verkragtingstoneel. Dink dus baie goed voor jy gaan kyk. Die rolprent maak die gehoor bloeddorstig. Dit is beslis nie ’n skiet-skop-en-doodbloei-aksiekapperjol nie, maar ’n diepgaande, intense ondersoek na die aard van en motivering vir geweld.

Dit kyk na die oermens wat in ons elkeen skuil en wys waartoe die mens in staat is as hy in ’n hoek gedryf word.

Rod Lurie bou die aggressie en geweld stadig en meedoënloos op tot die gehoor self later so aggressief raak dat die bloedbad in ’n ontlading en katarsis ontaard. Selde was eksplisiete geweld in ’n rolprent tematies so goed gemotiveer. Pasop, dis brutaal.

Volg Huisgenoot op Twitter.