Ware lewensdrama. 

Met AnnaSophia Robb, Dennis Quaid en Ross Thomas. 

Regisseur: Sean McNamara.

10MG.

Begin 5 Augustus.

Ons dink: 3/5

Waaroor gaan dit?

Dis die ware verhaal dié van die bekende branderplankryer Bethany Hamilton wat haar arm in ’n haaiaanval verloor het, maar steeds aangehou het om die sport te beoefen.

Wie sal hiervan hou?

Mense wat kla dat daar nie meer mooi, skoon gesinsrolprente gemaak word nie. En natuurlik sportgeesdriftiges en branderryers.

Sean McNamara se regie getuig van groot bewondering vir hierdie dapper jong meisie wat nie toegelaat het dat ou Jaws haar onderkry nie.

Die rolprent is ’n byna liriese huldeblyk aan haar en is gloeiend van bewondering.

Enersyds is dit natuurlik goed om iemand te vereer wat die lewe so dapper en vreesloos aandurf en enige struikelblok die hoof bied. Dit sal kykers inspireer en is ’n moet vir enigiemand wat deur ’n krisis gaan en voel daar is geen uitkoms nie.

Andersyds sou ’n mens graag ’n bietjie meer van die gesin se stryd teen die oorweldigende aanslae van die noodlot wou sien. Die fliek skep die indruk dat die regisseur dit effe verglans het.

Maar AnnaSophia Robb bewys dat sy een van Hollywood se opwindendste nuwe talente is, terwylRoss Thomas, wat die rol van haar ouer broer vertolk, haar stewig ondersteun.

Dis wel effe moeilik om Dennis Quaid en Helen Hunt as branderryers te aanvaar!

Inspirerende, aangrypende en skoon gesinsvermaak, maar ’n bietjie verglans.

Soortgelyke flieks

Big Wednesday, In God’s Hands.

Springmieliefeite

Die werklike Bethany en haar gesin kan in die kerktoneel taamlik aan die begin van die rolprent agter Helen Hunt gesien word.

Ross Thomas het al die wêreld deurreis en het ’n dokkie oor vreemde en eksentrieke kulture verfilm.

Volg Huisgenoot op Twitter.