Romantiese komedie.

Met Ginnifer Goodwin, Kate Hudson en Colin Egglesfield.

Regisseur: Luke Greenfield.

13MT.

Begin op 8 Julie.

Ons dink: 3/5

Waaroor gaan dit?

’n Meisie besef sy is verlief op haar beste vriendin se verloofde toe sy haar help om die troue te beplan!

Wie sal hiervan hou?

Is jy radeloos verlief op die verkeerde ou of meisie en jy wéét jou drome is omtrent so realisties soos dat alle taxibestuurders môre goeie padmaniere sal aankweek?

Dan sal jy te lekker agter jou springmielies bloos en hunker na vervulde drome.

Hierdie kougom vir die brein en lekkergoed vir die oë is suiwer springmielievermaak en kan jou betower en giggelend laat twiet: Oulike fliek, kry jou lyf by die volgende vertoning!

Daar is maar min oorspronklike romantiese komedies oor in Hollywood en hierdie is een van die min wat jou deur ander oë na die liefde sal laat kyk wanneer ’n verlepte lelie se blomblare uitdagend oopgaan toe sy ontdek hoe sterk die liefde werklik is.

Maar hoe gemaak om deur die struikelblokke van romanse te kom?

Ginnifer Goodwin is ’n aks bokant die gewone blosende roos wat giggelend na ’n kêrel soek, terwyl die donkerkop Colin Egglesfield ’n paar vroue se knieë sal laat knik. Die ideale fliek vir ’n toe-oë-afspraak!

Soortgelyke flieks

Maid in Manhattan, Letters to Juliet.

Springmieliefeite

*Peter Facinelli wou graag die rol van Dex speel, maar nadat Colin Egglesfield sy kuiltjies vir die kamera gewys het, het hy die rol gekry.

*Hy is ’n uithaler karate-vegter en het bekend geraak as deel van die mooi mense van die nuwe Melrose Place.

*Een van sy eerste rolprente, Beautiful Dreamer, het vroue in vervoering gehad al was die fliek maar mank aan ordentlike inhoud.

Volg Huisgenoot op Twitter.