Romantiese komedie.

Met Nico Panagio, Anel Alexander en Louw Venter.

Regisseur: Joshua Rous.

O.

Begin op 17 Februarie wys.

Ons dink: 3/5

Afrikaans het dekades laas ’n ordentlike, snaakse romantiese komedie gehad, maar met hierdie stroopsoet piekniek tussen Franschhoek se wynplase en Johannesburg, het die genre ’n vars vonkel bygekry.

In die fliek moet ’n reklamekopieskrywer (Alexander) verhoed dat ’n diktator (Panagio) die maatskappy waar sy werk, oorneem.

Ná ’n misverstand beland sy en die einste buffel saam in die Kaap, waar die wyn omtrent vloei.

Die rolprent is gesofistikeerd en by tye oortuigend snaaks. Dis gemaak vir gehore wat sepies kyk en dus geskik vir die hele gesin.

Maar die komedie word gekaap deur die uitmuntende Louw Venter as die mees geliefde bleeksiel tot dusver in Afrikaanse rolprente.

Anders as Diaan Lawrenson onderspeel hy en probeer hy nie snaaks wees nie.

Die dialoog is dikwels raakvat-gemaklik, maar soms is sinne net te lank. Die storie ontwikkel gemaklik, al neem die fliek ’n ruk om stoom te kry.

Die kundige gebruik van Johannesburg se gejaagde stadslewe teenoor die rustige agtergrond van die Kaap word pragtig ontgin. Homofobiese grappe en geykte situasies kniehalter egter sommige tonele.

Maar uiteindelik is die fliek vet, skadelose pret vir almal!

Volg Huisgenoot op Twitter.