Riller.

Met Courteney Cox, David Arquette en Neve Campbell.

Regisseur: Wes Craven.

16. TG.

Begin op 8 Julie.

Ons dink: 3/5

Waaroor gaan dit?

Kan ’n mens so dom wees? Om die oorspronklike moorde te herdenk, keer Sydney Prescott terug na die dorp toe waar sy oorspronklik byna vermoor is om haar boek bekend te stel. Natuurlik slaan ’n nuwe moordenaar weer toe!

Wie sal hiervan hou?

Adrenalien-verslaafdes wie se senuweepunte krioel van ril-lekkerkry sodra iemand die dodemasker opsit. Hierdie vierde aflewering boots die sjarme (as dit die regte woord is!) van die eerste oopbek-gil-Scream skaamteloos na en kry dit reg.

Wes Craven is die meester van verwarring. Hy lok jou met ’n grynslag op ’n pretparkrit en maak dan die brieke los!

As jy dus teen ’n doller-as-kop­af-tempo teen ’n styl helling wil affoeter terwyl jou bloed stol van pure gril-en-ril-lekkerkry, is hierdie rolprent vir jou.

Eintlik kul Craven so ’n bietjie wanneer hy die skuldige party ontbloot, maar jy vergewe hom, want op pad na sy/haar identiteit het jy gelag, clichés skaamteloos opgesê (“I’ll be back!”) en gewonder hoekom Sydney so simpel is om weer alleen in donker vertrekke in te loop as sy weet ’n monster soek haar bloed.

Die fliek is so ril-lekker, soveel (bloedige!) pret behoort eintlik teen die wet te wees! Jy sal net harder skree as jy ’n niersteen het.

Soortgelyke flieks

Al die ander Screams.

Springmieliefeite

*Wes Craven het Kevin Williamson die draaiboek so dikwels laat oorskryf dat die verfilming uiteindelik met sewe maande uitgestel is.

*Neve Campbell, wat Sydney speel, is van Skotse en Hollandse afkoms. Sy is in Kanada gebore.

*Sy al twee keer geskei, van John Light en Jeff Colt, en was ook in ’n verhouding met John Cusack.

Volg Huisgenoot op Twitter.