Onderwaterdrama.

Met Rhys Wakefield, Richard Roxborough en Alice Parkinson.

Regisseur: Alister Grierson.

13GT.

Begin op 17 Junie.

Ons dink: 1/5

Waaroor gaan dit? 

’n Groep dapper duikers durf die wêreld se grootste en mees afgeleë grotte aan om ’n onderwater­ekspedisie te begin. Dan tref ’n ramp hulle . . .

Wie sal hiervan hou?

Moet net nie The Abyss of Titanic verwag nie, al kom hierdie rolprent uit dieselfde James Cameron-stal.

Aanvanklik smokkel dit met jou kop. Maar hoe later, hoe minder kwater, want dit versink in ’n eentonige onderwaterswemmery wat ’n mens aan die slaap sus.

Die spanningslyn taan van vroeg af, want jy kan net só lank na ’n klomp gedoemde duikers kyk wat in grotte onder die water rondploeter.

Lesers wat aan engtevrees lei of wat bang is vir water, word beslis hiervan afgeraai.

Of wag: Die meeste lesers word hiervan afgeraai, want die verwagting word geskep dat jy op die punt van jou stoel gaan sit en met jou reddingsgordel in jou sitplek gereed sit om na ’n avontuurbelaaide dimensie lanseer te word. O wee.

Jammer. Moenie mislei word deur die slim plakkaat en prikkelende advertensies nie.

Van karakterisering is daar weinig sprake, en die bietjie karakterbou wat daar is, is so oppervlakkig dat die akteurs gesigte bly en nooit in volwaardige mense ontwikkel nie.

En die einde is darem ’n bietjie te dik vir ’n daalder, al is die verhaal klaarblyklik op ’n ware gebeurtenis gegrond. Dit sal jou net aan daardie aaklige spanbounaweek herinner wat jy onlangs teen wil en dank moes oorleef!

Soortgelyke flieks

The Hole, The Deep, The Descent 1 en 2.

Springmielie-feite

*Die grotte is van beton gebou en presies dieselfde grotte is weer in ’n tenk gebruik vir die onderwatertonele.

*Die rolprent se buitetonele is in Die Grot van die Swaeltjies, San Luis Potosi, Mexiko, verfilm.

*Rhys Wakefield is een van Australië se blinkste jong sterre. In The Black Balloon het hy in sy onderbroek verskyn, maar was so skaam dat dit die hele dag geduur het om die tonele te voltooi.

Volg Huisgenoot op Twitter.