Ons dink: 4/5

Romantiese drama.

Met Ewan McGregor, Emily Blunt en Kristin Scott Thomas.

Regisseur: Lasse Halström.

OTG.

Begin op 27 April.

Teken in op Huisgenoot

Dié pragtige, ontroerende fliek is een van 2012 se bestes. En al begin die oordonderende Battleship dié week (wat nog nie aan die pers vertoon is nie), troon Salmon Fishing in the Yemen kop en skouers uit as ’n meevoerende meesterstuk.

As jy dus hou van eenvoudige rolprente met ’n realistiese, gemaklike, romantiese storie, natuurlike en spitsvondige dialoog, puik akteurs en asemrowende natuur­skoon, sal dié een jou soos ’n kat laat spin van pure lekkerkry.

’n Konsultant nader ’n viskenner met die sonderlinge versoek van ’n sjeik om tienduisend forelle na ’n dam in Jemen te verplaas sodat hy die kuns van kunsvlieg-hengel in sy geboorteland kan beoefen.

Die romantiese misverstande en die vooroordeel teen Westerse inmenging vorm die hart van hierdie aangrypende, fynbesnaarde rolprent.

Die styl is onopgesmuk, sonder foefies wat die aandag van die liefdesverhaal aftrek. Kristin Scott Thomas is in haar element! Sy lewer seker een van haar snaaksste vertolkings nog as die Britse regering se perssekretaris.

Steel, bedel of smokkel ’n kaartjie vir dié wonderlike ervaring wat jou siel verryk en ’n herfsdag optower!

Dit herbevestig hoe warmer die film se hart en hoe eenvoudiger die aanslag is, hoe sterker is die trefkrag.

Volg Huisgenoot op Twitter.