Ons dink: 3/5 

Drama/komedie

Met Frank Langella, James Marsden en Susan Sarandon

Regisseur: Jake Schreier

10OT

Begin op 19 April

Hokaai, alle tieners wat dink dit is ’n vervolg op I, Robot dié! Dit het niks met Star Wars of enige ander wetenskapsfiksiedrama te make nie en is eintlik meer op oupa en ouma gerig as op koel ouens met houding.

Die rolprent gaan oor ’n oupa (Frank Langella) wat ál minder vir homself kan sorg, maar weier dat sy seun (James Marsden) hom in ’n ouetehuis stop. Die jong man kry toe maar ’n robot wat na sy pa kan omsien. Maar wat gebeur toe die ou ballie besluit om diefstal te pleeg en die robot inspan om hom te help?

Die fliek is snaaks op ’n minsame, outydse manier. Dit herinner aan die soort stories wat jou oupa altyd vertel het en waaroor jy vandag nog lag. Daarteenoor is dit op ’n gesofistikeerde en volwasse smaak gerig en gaan nie oor vrolike robotte wat kwinkslae kwytraak of liefies raak wanneer hulle ’n hoë fluitgeluid hoor nie.

Daar is groot lewenswaarheid en wysheid hierin. Fliekgangers wat al deur die lewe verrinneweer is en weet hoe dit voel om eensaam te wees en verstoot te word, sal hierby aanklank vind. Robot & Frank is inspirerend en selfs besielend.

– LEON VAN NIEROP