Ons dink: 3/5

MACHODRAMA.

Met Woody Harrelson, Ben Foster en Robin Wright.

Regisseur: Oren Moverman.

16TGSV.

Begin op 2 Maart.

Jy sal vanjaar nie ’n woester, moeiliker rolprent sien nie. As jy instap, los die springmielies buite, want selfs die mielies sal vlug vir hierdie rateltaai, brutale, rassistiese polisieman.

Dié staal­harde drama speel in die 90’s in Los Angeles af toe Dave Brown, ’n gevreesde, gewelddadige polisieman (onverbeterlik gespeel deur Harrelson), op kamera betrap word dat hy ’n verdagte misdadiger foeter.

Die rolprent bekyk sy selfvernietiging met ’n vasberade, voort­gedrewe betowering.

Die kamera word met die hand vasgehou, terwyl daar montages is wat aan die dwelmmontages in Requiem for a Dream herinner.

’n Mens wil uit die teater vlug terwyl jy toesien hoe dié onbuigbare woest­aard se siel in lemmetjiesdraad beland. Hy is van die ou soort, spog hy, wat alles reg foeter en wegkyk as kollegas dwelmgeld onder die tafel ontvang.

Maar hy is toegewyd aan sy twee dogters, van wie een heeltemal wan­aangepas is.

Hy het seks met alles wat ’n skaduwee gooi terwyl hy probeer oorleef in ’n wêreld net so siek soos hy. Die bloedige geweld walg jou, maar fassineer tog ook. Dis soos om op warm kole te loop. Robin Wright is briljant.

Volg Huisgenoot op Twitter.