Musiekdrama.

Met Bok van Blerk, Steve Hofmeyr en Lianie May.

Regisseur: Sean Else.

13TG.

Begin op 25 November.

Ons dink: 3/5

Waaroor gaan dit? 

’n Plattelandse plaasnooi gaan moontlik haar geboortegrond verloor. ’n Gewetenlose geldwolf het sy oog op haar plaas. Toe daag ’n geheimsinnige vreemdeling op.

Wie sal hiervan hou?

Mense wat gereeld sepies kyk en van Skouspel hou. Die rolprent probeer om in hul smaak te val en om daardie gehoor in hul gemaksone te hou.

Wat jy op die plakkaat sien, is dus presies wat jy in die rolprent kry: Mooi mense wat lekker kan sing, teen onderduimsheid veg en hul gevoelens in musiek uitdruk.

Die fotografie laat reg geskied aan die Vrystaatse platteland en veral plattelanders sal hulself kan vereenselwig met die skoonheid van die landstreek.

Die karakters voldoen, soos in ’n sepie, aan die gewone fliekganger se vereistes. In dié opsig tref Platteland sy mark presies waar dit lekker is.

Verskeie genres word verken, soos die western, musiekblyspel, drama en selfs swart komedie met ’n stewige dosis romanse. Dalk meng al hierdie elemente nie so suksesvol soos ’n mens sou verwag nie, maar dis bloot uit ’n resensente-oogpunt.

Steve Hofmeyr is gesaghebbend en oortuigend (en lag dalk in sy mou vir die karakter), maar nie al die sangers oortuig as akteurs nie, veral nie Vaughn Gardiner as ’n boerseun nie. Lianie May werk egter in haar rol.

Die storie is nie altyd sterk en boeiend genoeg om die aandag te hou nie en daar is tye dat dit stadig beweeg. Maar oor die algemeen is dit net reg vir sy voorgenome mark.

Soortgelyke flieks

Liefling, Ek Lief Jou.

Springmieliefeite

*Dit is Sean Else se eerste vollengterolprent as regisseur.

*Bok van Blerk se grootste treffer is De la Rey.

*Die rolprent is in die omgewing van die dorpie Vrede geskiet.

*Lianie se regte van is Oosthuizen.

Volg Huisgenoot op Twitter.