Romanse.

Met Anne Hathaway, Jim Sturgess en Patricia Clarkson.

Regisseur: Lone Scherfig.

13.

Begin op 23 September.

Ons dink: 4/5

Waaroor gaan dit?

Twee mense wat ooglopend op mekaar verlief is, kan mekaar nie vind nie. Die rolprent blaai deur dieselfde dag oor 15 jaar in hul lewe.

Wie sal hiervan hou?

Lesers wat ernstig is oor romanse. Die afgelope jaar het Hollywood liefde soos ’n stukkie spookasem behandel wat net as verskoning gebruik word vir supersterre om kaal in gewaagde tonele rond te hol, slim kwinkslae kwyt te raak en jong gehore te trek.

Hierdie fliek is doodernstig en besin oor jong mense wat verkeerde keuses te vroeg in hul lewe maak.

Soms is die liefde so oorweldigend dat twee onvolwasse siele (anders as Romeo en Juliet!) die krag daarvan onderskat en nie behoorlik verstaan wat liefde beteken nie.

In daardie opsig is One Day een van die beste romantiese rolprente wat ernstig besin oor die invloed van liefde op jong, ontvank-like siele.

Wees gewaarsku: Dit is donker, dikwels moeilik en soms neerdrukkend. Moenie gaan as jy lus is vir oppervlakkige, jolige tienerkaperjolle nie. Dit is een van die min rolprente wat liefde met respek hanteer en tieners nie net uitbeeld as wellustige, dwelmsnuiwende leëkoppe nie.

Aanbeveel vir die meer volwasse tiener wat ernstig is oor liefde en selfs vir nostalgiese volwassenes.

Soortgelyke flieks

Same Time Next Year, Blue Valentine.

Springmieliefeite

*In die kaalswemtoneel het Anne Hathaway haar agterstewe vir Jim Sturgess geflits om hom te laat lag, min wetend dat die publiek met selfoonkameras die hele petalje agter haar kon sien!

*Sturgess was in ’n musiekgroep, Dilated Spies.

*Hy was een van die kandidate vir die nuwe Spider-Man-rolprent.

Volg Huisgenoot op Twitter.