Sielkundige drama. Met Jesse Eisenberg, Isla Fisher en Mark Ruffalo. Regisseur: Louis Leterrier. 10-12 OTG. Begin op 9 Augustus.

Hallo, alle bleeksiele! Of slagoffers van die daaglikse katastrofes wat ons almal maar tref en wat ons gedweë laat sug: “Die lewe is onregverdig.” Dié rolprent is vir almal wat al erg onder die noodlot deurgeloop het of wat al gevoel het die lewe behandel hulle onregverdig. Vier hoogs intelligente towenaars, onder wie Dave Franco en Woody Harrelson, met die duiwels in sy oë, bied reuse kulkunsvertonings aan waar hulle derduisende mense se oë verblind en toertjies uitvoer wat jou na jou asem laat snak. Maar toe voer die vermetele genieë dit ’n bietjie verder. Hulle beroof voor ’n gehoor ’n bank, met die polisie wat naarstig agter die kap van die byl probeer kom. Jy sal giggel, oopmond staar na wat gebeur, uitbundig lag en tussenin op die puntjie van jou stoel sit van pure uitgelate lekkerkry. Die rolprent neem jou op ’n pretparkrit waar elke nuwe toneel jou totaal onkant vang en die intrige in ’n onverwagte rigting stuur. Natuurlik is daar oral vals leidrade geplant, van die dom polisie tot mense wat lewend vir piranhas gevoer word. Maar moenie toelaat dat Louis Leterrier en sy span jou om die bos lei nie. Hou jou oë wawyd oop en bevraagteken alles! Moewiese pret.

- LEON VAN NIEROP