Musiekdrama. Met John-Henry Opperman en Brümilda van Rensburg. Regisseur: Sallas de Jager. 7-9 OT. Begin op 11 Oktober.

Sallas de Jager skep hier ’n nuwe standaard met ’n menslike storie wat gesofistikeerd en boeiend is. ’n Sanger met sterre in sy oë (die uitstekende John-Henry Opperman) wil sy musiek met die volk deel, maar beland in die hande van ’n selfsugtige bestuurder, Lucy (Brümilda van Rensburg in haar beste vertolking nog). Sy dwing hom op die verkeerde pad, maar die bekroonde Lizelle de Klerk, as die sanger se vrou, wil dit keer. Die rolprent beweeg teen ’n moeitelose tempo, met herkenbare karakters waarby gehore stewig aanklank sal vind. Daar is enkele gate in die draaiboek (Lucy verander te vinnig en ons sien Bea, haar dogter, nooit), maar dit is die pelgrimstog van ’n sanger na volwaardige sterstatus wat aangryp. Die styl is natuurlik en onselfbewus en bring ’n gesag na ’n storie wat so maklik net nog ’n lekker saamsing-karaoke kon gewees het. Weet dus jy gaan nie bekende treffers teëkom wat jou glimlaggend gaan laat saamneurie nie. Dis liewer ’n uitbeelding van ’n pad na sukses waarin ’n sanger sy siel aan die duiwel verkoop en moet veg om sy musiek en lewe van sy bestuurder te red. Ons dink 3/5

- Leon van Nierop