Drama. Met Matthew McConaughey, Reese Witherspoon en Tye Sheridan. Regisseur: Jeff Nichols. 10-12OG. Begin op 23 Augustus.

Dis so jammer ’n mens kry nie kleintyd ’n handleiding oor grootword nie. Mud kyk hoe swaar puberteit kan wees, die moeilike tyd waarvan grootmense skynbaar vergeet het en wat hulle nou geriefshalwe “nie verstaan nie”. Dié warm, ontroerende en emosiebelaaide rolprent kyk na twee 14-jarige seuns se probleme toe hulle op ’n klein dorpie met konserwatisme en vooroordeel gekonfronteer word. Maar hul grootste probleem is ’n sjarmante swerwer, Mud (Matthew McConaughey is uitstekend), wat in ’n boot bly wat in ’n boom beland het. Hy probeer kontak maak met sy meisie op die dorp; die seuns neem sy boodskappe na haar en gee hom kos. Maar dis die invloed van Mud se vrye lewenstyl en obsessies op die seuns se ontvanklike gemoed wat aangryp. Hier is geen oulike gemaksone soos in ’n televisiesituasiekomedie nie en geen “haai siestog”-oomblikke nie. Hierdie dramatiese rolprent, wat taamlik stadig beweeg, weerspieël die innerlike landskap van die karakters met deernis. Boonop gebruik die regisseur die Mississippi en die moerasse om die dorp ten volle om kommentaar te lewer op die karakters se buie en dit wat hulle beïnvloed. Eindelik is dit Tye Sheridan se spel wat werklik tref. Uitmuntend. Ons dink 4/5

– LEON VAN NIEROP