Romantiese komedie.

Met Owen Wilson en Rachel McAdams.

Regisseur: Woody Allen.

OT.

Begin op 31 Desember.

Ons dink: 5/5

Waaroor gaan dit? 

’n Bleeksielskrywer ly aan skrywersblok. Dan beland hy in ’n taxi in Parys en in ’n aweregse restaurant waar Boheemse skrywers en kunstenaars van honderd jaar gelede sy brein woema gee.

Wie sal hiervan hou?  

Keelvol vir Kersvermaak en desperaat op soek na manna vir die siel? Dan is hierdie briljante vyfster-komedie vir jou. Dit is Woody Allen se beste fliek sedert Annie Hall.

Selfs al vind jy nie aanklank by hom nie, kan hierdie een jou nerwe kielie tot jy stik van die lag. Maar bowenal, dis blink-slim, gesofistikeerd met ’n bedrewe draaiboek en buitengewoon slim kwinkslae. Dié rolprent laat jou verdwaal iewers tussen Parys se agterstraatjies, skrander kuns-tenaars wat oor die doel van die lewe filosofeer en ’n droë humorsin wat hierdie laaste week van die jaar op ’n hoogtepunt sal laat afsluit.

Dit is veral die prikkelende filosofieë en Allen se gekorswel met intellektualisme en voortvarendheid in skrywers soos F. Scott Fitzgerald en Ernest Hemingway, wat die rolprent soos ’n gepoetste juweel laat skitter.

Gun jouself ’n Nuwejaarspresent en verlekker jou in ’n romantiese komedie wat klassieke status sal bereik. Wat ’n mens se hart laat vla pomp, is die absolute deernis waarmee die neurotiese skrywer (dus Owen Wilson as Allen) die groot geeste van die jare 20 bejeën.

Dis ’n rustige, innemende fantasie waarin intellektuele reuse van gister aanklank vind by neurotiese nuwelinge van vandag. Sien dit tot elke prys. Dit sal jou siel verryk.

Soortgelyke flieks

Annie Hall; Manhattan; Play It Again, Sam.

Springmieliefeite

*Dit is Woody Allen se 41ste fliek en een van sy persoonlike gunstelinge.

*Allen het self in die Hôtel Le Bristol in Parys tuisgegaan waar die rolprent verfilm is, waar die hoofkarakters bly en waar hy dan ook die draaiboek geskryf het.

*Vincent van Gogh se Starry Night word op die plakkaat gebruik.

Volg Huisgenoot op Twitter.