Ons dink: 4/5

Menslike komediedrama.

Met Channing Tatum, Alex Pettyfer en Matthew McConaughey.

Regisseur: Steven Soderbergh.

16TSND.

Begin op 20 Julie.

Die stertrieme waai in al hul glorie in dié onverwags goeie rolprent oor manlike ontkleedansers. Veral vroue sal aanvanklik nie hul oë glo dat so baie katelknape so sorgeloos uittrek nie (die naaktheid en seks kan skok), maar Soderbergh se rolprent gaan oor meer as prikkeling.

Dit pluk die maskers af van ’n groep jong latte wat saans kaal en suggestief paradeer en alles bed toe sleep wat ’n skaduwee gooi; teen ’n prys natuurlik.

Maar hoe lank voor moraliteit, selfbeeld, verantwoordelikheid, gewete en volwassenheid begin kop uitsteek?

Dié verhaal is losweg gegrond op Channing Tatum se ervaring as jong ontkleedanser. Die draaiboek beeld die leë, misleidend glansryke uitbuitingslewe van manlike ontkleedansers uit.

Matthew McConaughey as die deurwinterde, voos spiertier-klubbaas stap met die toneelspellouere weg.

Die ontkleedanse bied enersyds lekkergoed vir die oë, maar word andersyds simbolies van inhibisies wat geleidelik terugkruip en met die manne se gewete begin smokkel. Wel, sommige.

Uitmuntend, maar daar is baie kaalpronkery.

Volg Huisgenoot op Twitter.