Ons dink: 1/5

Romantiese komedie.

Met Miley Cyrus, Douglas Booth en Demi Moore.

Regisseur: Lisa Azuelos.

13TSD.

Begin op 22 Junie.

Die storie? ’n Verwaande, oërollende tiener (Miley Cyrus) se ou sê haar af. Maar toe takel ’n nuwe dude haar. En dis al. Ja, rêrig.

O ja, haar ma is Demi Moore, wat ewe kinderagtig optree. G’n wonder hierdie meisietjie is so ’n pyn in die postuur nie!

’n Mens soek hard na iets positiefs om oor hierdie lendelam komedie te sê, maar eintlik wil jy die fliek ’n rolstoel aanbied, want op haar eie bene kan sy nie staan nie.

Hoe kan ’n mens ’n fliek maak oor ’n klomp karakterlose toetsies met meer grimering as breinselle wat met hul selfone getroud is, grootmense haat, die skool verafsku en net met mooi outjies wil vry?

Die fliek het kaplaks! op haar ontwerperboudjies by die Amerikaanse loket geval dat jy haarverlengings sien waai. Volwassenes sal moeilik hierdeur worstel.

Dalk sal meisies wat pas puberteit bereik het, giggel vir die voorspelbare grappe en gretig SMS wanneer hulle die mooi, meisierige seuntjies sien.

LOL staan vir lots of love of laugh out loud. Jy sal nie een van die twee doen nie. Watever!

Volg Huisgenoot op Twitter.