Komedie.

Met Rowan Atkinson, Rosamund Pike en Dominic West.

Regisseur: Oliver Parker.

OT.

Begin op 14 Oktober.

Ons dink: 3/5

Waaroor gaan dit?

Die wêreld se lompste bleeksiel-namaaksel van James Bond (sonder die testosteroon!) is terug om te keer dat die Chinese premier doodgeskiet word.

Wie sal hiervan hou?

Slapstick-foendi’s wat dink piesangskilgly is koning.Rowan Atkinson kan maar net sy wenkbrou laat wipplank ry en mense lag hulle in ’n ander bloed­groep in.

Hy het inderdaad van slapstick ’n kuns gemaak.

Daarom wemel die rolprent van onwaar­skynlike terreuraanvalle, motorjaagtogte wat Sebastian Vettel nagmerries sal gee en kwinkslae wat jou ligte sal uitslaan.

Al begin die rolprent aanvanklik wankelrig, raak ’n mens gou gewoond aan English se onhandige metodes en sy onbe-kwame tegnieke om skurke se tjank af te trap. Hy red die planeet ten spyte van homself (en dalk ook ván homself!).

Dit is een van daardie koelkop-komedies met ’n held wat herinner aan ’n inkopiesentrum waarvan die deure wyd oop is, maar niemand koop nie.

Soms kan dit goed wees vir lesers wat voos is van slegte nuus om skoene uit te skop, vetterige springmielies by die hand vol te verorber en bene in die lug te lê en skater vir ’n bleeksiel se gruwelike probleme waarin hy selfs die kleinste insident in ’n chaos omskep.

Nie vir mense wat gesofistikeerde humor soek nie, want jy lag dikwels ten spyte van jouself.

Jy moet in die regte bui wees vir hierdie manewales en jou oorgee aan Atkinson se rub-bergesig en hoogspring-lang bleekgewaste bene.

Soortgelyke flieks

Johnny English, Austin Powers: The Spy Who Shagged Me.

Springmieliefeite

*Rowan Atkinson het ’n graad in elektroniese ingenieurswese en het op universiteit al komiese sketse begin doen.

*Hy hakkel en staan daarom selde onderhoude toe.

*Hy was een van die gaste by prins Charles en Camilla Parker Bowles se troue.

Volg Huisgenoot op Twitter.