Drama.

Met Mia Wasikowska, Michael Fassbender en Jamie Bell.

Regisseur: Cary Fukunaga.

OT.

Begin 6 Mei.

Ons dink: 4/5

Waaroor gaan dit?

’n Privaat onderwyseres, wat pas uit ’n weeshuis kom, moet ’n eksentrieke landheer se dogtertjie onderrig. Dan ontdek sy ’n gruwelike geheim.

Wie sal hiervan hou?

Almal wat van goeie, dramatiese en aangrypende flieks hou. Moenie in dieselfde slaggat as jou pelle trap wat dink dis ’n outydse gesnater met korsette aan nie. Hierdie Charlotte Brontë-storie is tydloos. Dit is so briljant en met soveel deernis gemaak dat dit jou voete onder jou sal uitslaan.

Die sensitiewe verhaal is vol intrige, verrassings en drama. Om die waarheid te sê is dit eintlik ’n spookstorie met houding!

Jane se wedervaringe in die koue, spokerige huis kon net sowel uit ’n moderne riller soos The Others gekom het.

Die rolprent lewer ook kommentaar op klasseverskille en hoe weeskinders deur ongenadige oumense geterroriseer en mishandel is. Maar dit kritiseer eintlik seksuele onderdrukking.

Dit belig egter ook ’n verbode romanse en vra: Is liefde sterk genoeg om enige grusame geheim te oorkom?

Wees gewaarsku: Daar is ’n heerlike kinkel in die kabel!

Hierdie lewendige rolprent maak formele dramas weer pret. Die noukeurige aandag aan die herskepping van die geskiedenistydvak en die deurleefde spel en sober regie maak dit een van vanjaar se toprolprente.

Gaan kyk as jy beïndruk wil word.

Soortgelyke flieks

The King’s Speech, Wuthering Heights.

Springmieliefeite

*Mia Wasikowska is ’n balletdanser en is in Australië gebore.

*Sy was ’n skamele 20 toe sy Jane Eyre gemaak het.

*Michael Fassbender het glo die reputasie dat die meisies, veral op rolprentstelle, dol is oor hom.